2 maande gelede
Vrou steeds geskok oor Melville-skietery
new years shooting
Die toneel in Melville waar 'n skietery uitgebreek het.  ~ Jamaine Krige / AFP

HAAR broer moes haar en haar niggies grond toe trek om hulle teen die koeëls te beskerm. Daarna moes hulle oor gebreekte glas kruip na veiligheid.

Só beskryf Tayiba Barnwell (21) die Nuwejaarsdag toe 'n onbekende skieter vanuit 'n swart BMW op klante van die Poppy's-restaurant losgebrand het.

Twee vroue is in die voorval dood en ses ander mense beseer.

Barnwell sê voordat tragedie getref het, was dit 'n lekker familie-atmosfeer.

Toe die skote klap, het sy aanvanklik gedink dis klappers.

“Ek het gevries van die skok en kon nie myself kry om te beweeg nie,” vertel Barnwell.

Sy sê haar broer het haar en haar niggie vloer toe getrek uit die pad van die koeëls. In die proses het sy op een van die vroue geval wat doodgeskiet is.

Sy het eers seker gemaak geen familielede is beseer voordat sy uit die restaurant gekruip en na veiligheid gehardloop het.

Buite het sy gesien hoe paramedici 'n tweede vrou probeer bybring.

Barnwell sê sy sukkel steeds om die trauma te verwerk en is steeds in geweldige skok.

"Ek het baie vrae oor hoekom iemand 'n onskuldige groep mense, wat net die nuwe jaar wou vier, skade sou aandoen. Daar was gesinne soos myne wat net ‘n lekker tyd wou hê."

Die polisie bied intussen 'n kontantbeloning aan vir enigeen met inligting  wat tot die arrestasie van die skuldiges lei. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters