Verlede maand
Verbod vir talle lewensgevaarlik
moeilik: Harde drinkers word aan die diep kant ingegooi as hul alkohol skielik weggeneem word. Foto: gallo istock photos  ~ 

MET die verbod op die verkoop van drank, en die voggies wat nou lankal op is, kan Suid-Afrikaners wat hoogs verslaaf is aan drank erge onttrekkings kry.

Dit is nie net ’n nagmerrie vir hulle en hul familie nie, dit kan in sekere gevalle lewensgevaarlik wees.

Volgens dr. Duncan Laurenson, ’n verslawingspesialis by die Akeso Stepping Stones-fasiliteit in Kenilworth (waar hy die detoks-program bestuur), is dit ’n feit dat die verbod goed was vir gemeenskappe.

Dis nou in terme van die afname in voorvalle van geweld en trauma as gevolg van ongelukke.

Maar daar is ook ’n donker kant, want om skielik sonder alkohol te sit, kan vir alkoholiste ’n reeks gevolge inhou.

Dit kan wissel van fisieke en emosionele ongemak tot lewens­gevaar.

Minder erge vorms kan mood swings, irritasie, angs, moegheid en slapeloosheid insluit.

Dit kan weke tot maande aanhou.

Maar ’n groter kommer oor veral mense wat ’n lang geskiedenis van swaar drink het en ouer mense is gevolge soos hoë koors, delirium, hallu­sinasies, bewerasies en selfs komas.

Tot stuiptrekkings, hartaanvalle of beroertes kan voorkom.

Laurenson sê Suid-Afrikaners is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie van die strafste drinkers op aarde.

Volgens hom is alkohol-onttrekking vir baie mense die swaarste vorm van onttrekking, self erger as ander vorms van dwelmonttrekking.

Delirium tremens (DT) is ’n potensieel gevaarlike gevolg van alkohol-onttrekking.

Hallusinasies en delusions kan tussen 24 en 72 uur ná die laaste dop voorkom. Maar dit kan selfs ná ’n week ook voorkom.

Die sterftesyfer as die pasiënt nie vir DT-simptome behandel word nie, is tussen 5% en 10%.

As jy ’n persoon ken wat ’n lang geskiedenis van drankmisbruik het en hulle sien ruk of simptome van DT ontwikkel, kan daar groot probleme wees. Hierdie persoon moet dadelik by ’n hospitaal of ’n kli­niese fasiliteit mediese behandeling kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters