7 dae gelede
Twee vas vir Samwu-lede se moorde
Ronald Mani is in 2019 doodgeskiet.  ~ Argief

TWEE broers van Polokwane in Limpopo is in hegtenis geneem in verband met die moorde op twee Samwu-lede.

Die moorde, wat luidens berigte ook verband hou met die VBS Mutual Bank-skandaal, is in 2019 gepleeg.

Tshimagadzo Timson Musetsho (50) is op 24 Januarie 2019 geskiet terwyl hy in sy motor by 'n vulstasie in Thohoyandou gesit het. Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Ses dae later is Ronald Mani (50) buite 'n bottelstoor in Itsani doodgeskiet. Hulle het albei vir die Vhembe-distriksmunisipaliteit gewerk.

City Press het kort ná hul dood berig die twee was uitgesproke oor die grootskaalse plundery by die bank. Hulle is doodgeskiet - dae nadat hulle betogende werkers oor die plundery by die bank toegespreek het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê in 'n verklaring die arrestasies van die 26 en 33-jarige verdagtes is die gevolg van uitgerekte, maar goeie speurwerk.

Die verdagtes is aanvanklik op 19 Maart in hegtenis geneem op klagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Hulle is later met die moorde op die vakbondlede asook 'n rits ander klagte, wat roof en ontvoering insluit, verbind.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters