23 dae gelede
Twee uit een stal
Welkom: Lebohang se gunsteling- beeld is dié van sy suster in rooi.Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

AMSTERDAM. – Hoe indrukwekkend is dit as jy in Nederland ’n Suid-Afrikaner se foto-uitstalling kan gaan uitcheck?

Dit was die geval toe die gebore Vrystater Lebohang Tlali ’n foto-tentoonstelling saam met ’n Nederlandse fotograaf, Ad van Denderen, aangebied het.

Die geleentheid is by die Stedelijk Museum Amsterdam gehou.

Tlali en Van Denderen se vennootskap het al in 1997 begin toe Tlali ’n student aan die Universiteit van Kaapstad was. Hy het ’n BA-graadkursus in kuns oor vier jaar gedoen en op ’n boek met Van Denderen se foto’s in die kampus se biblioteek afgekom.

Die Nederlandse fotograaf se foto-verhaal wat oor Tlali se tuisdorp Thabong handel, het die uitwerking van apartheid uitgebeeld.

Tlali sê: “Dit was die eerste keer dat ek beelde van Welkom op so ’n manier gesien het, en dit was fassinerend hoe jy sulke tipe foto’s kan neem en die atmosfeer skep.”

Tlali het Van Denderen per e-pos genader om hom erkenning, asook kritiek, oor sy werk te gee.

Tlali dink terug: “Ek wou by hom weet hoekom niemand dan iets van sy boek weet nie.”

Dit het ’n gesprek tussen hulle begin en die geboorte van die twee se projek Welkom Today in die vorm van ’n toe-en-nou-uitstalling en boek meegebring.

Welkom Today is ’n kombinasie van ou en nuwe foto’s deur Van Denderen en Tlali, sowel as foto’s wat van studente en uit familie-albums en koerantargiefstukke bekom is.

“Ek het een wens gehad en dit het ’n realiteit geraak,” vertel Tlali met ’n groot smile op die uitstalling.

Van Denderen erken die situasie was te uniek vir hom om nee te sê.

Reis

Hy beskryf Tlali se werk as baie sterk.

“Dit was ’n goeie reis vir ons albei,” sê Van Denderen.

Tlali onthou dit was uit blote nuuskierigheid dat hy sy suster se mik-en-druk-kamera opgetel en begin foto’s neem het.

“Ek het begin om oral mense se foto’s te neem. Dit het my in kontak met mense en plekke gebring.”

Hoewel Tlali se woonadres deesdae in Finland is, is hy aktief as fotograaf, onderwyser en kurator in Suid-Afrika en Europa.

En sy bewondering vir sy vennoot is duidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters