Verlede maand
Trok ry 'korrupte cop' dood
 ~ 

'N POLISIEMAN wat weggehardloop het nadat sy kollegas hom gerresteer het toe hy 'n docket wou verkoop, is deur 'n trok doodgery.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie se teenkorrupsie-eenheid het inligting ontvang oor 'n speursersant wat saam met 'n sekuriteitswag en nog 'n persoon 'n docket van die Lenasia-Suid-polisiestasie wou verkoop.

Die drie persone het met die polisie se aankoms op die toneel in 'n kar gevlug.

"Hulle is almal gearresteer toe die kar, waarin hulle gery het, die curb op die R559 getref en tot stilstand gekom het. Die sersant het hom egter losgewikkel en by 'n veld ingehardloop. Die sersant het toe op die hoofweg gehardloop en is deur 'n trok doodgery."

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die eenheid geloof vir hul vinnige optrede.

Sitole het wel sy medelye met die oorlede lid se familie gedeel.

"Dit is egter ontstellend wanneer jy nuus ontvang van lede wat na bewering by korrupte aktiwiteite betrokke is," het Sitole bygevoeg.

"Ons, as lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het 'n grondwetlike- en morele verpligting om ons instellings teen korrupsie te beskerm." - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters