2 dae gelede
Tonnels val in op delwers
GAT: Een van die tonnels waarin “diggers” hul luck probeer om diamante te vind.  ~ verskaf

KOMAGGAS. – Tot 10 myners het vermoedelik gesterf toe ’n uitgewerkte myntonnel hier in die Noord-Kaap op hulle ineengestort het.

Dié tragedie het die armoede-voos gemeenskappie 40km suidwes van Springbok Woensdagoggend getref.

Volgens ’n bron na aan die ongeluk delf baie delwers sonder permitte in die tonnels van De Beers se ou Nuttaboy-myn. Verskeie tonnels het toe op die delwers ingestort.

“Dit is onduidelik hoeveel mense omgekom het, maar ons vermoed tussen 5 en 10,” het die bron vertel.

Niemand is tans seker hoeveel mense nog vasgekeer is en of daar nog enige oorlewendes is nie.

Dis ’n baie ruwe en ontoeganklike area, vertel die plaaslike inwoners.

Nadat die nuus op sosialemedia-platforms gebreek het, was daar ongekende reaksie en boodskappe van bemoediging aan die families van die slagoffers.

GAT: Een van die tonnels waarin “diggers” hul luck probeer om diamante te vind.

Aktivis

Baie inwoners voel armoede speel hier weer ’n rol. Ander voel dat die delwers permitte moet kry, want dan sal hulle nie onwettig diamante gaan delf nie.

Verder is daar mense wat voel dat die groot mynhuise die diamantryke grond aan die plaaslike inwoners moet teruggee.

Dawid Markus is ’n vurige aktivis vir die regte van die “diggers”, soos hulle na hulself verwys.

Hy het kort ná die tragedie hartseer gesê: “Die mense wat hier by Nuttaboy en Bontekoe is, is baie getraumatiseerd.

“Ons sal nou ’n gesamentlike operasiesentrum probeer oprig om hulle te ondersteun. Nuwe inligting sal later deurgegee word.”

Volgens die politikus Cyril Warne het die tonnels al ’n week gelede begin inval. “Daar is so 20 tonnels in ’n radius van 800m. Tot 170 mense delf op ’n slag ondergronds in dié tonnels.

Sand

“Die tonnels het van Woensdagoggend tussen 07:00 en 08:00 begin inmekaargestort.

“Ek is egter teleurgesteld dat daar eers Donderdagmiddag reddingspanne na die toneel gestuur is.”

  • In Mei 2012 is verskeie delwers ook by die nabygeleë Bontekoe-myn deur sand, klippe en rotse toegeval.

Dit is nie bekend hoeveel destyds gesterf het nie, maar 10 lyke (onder andere twee Adams-broers van Nababeep) is later gevind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters