Verlede maand
Tonge los oor vrou se groot koek
Koeksternasie: Dit gons steeds oor die ANC se aardige koek.  ~ Verskaf

DIS nie vreemd as veral die manne oor ’n helse groot koek skinder nie.

En as dit boonop ’n yslike koek is wat 320 kg weeg, dan raak die tonge éérs los.

Dit is presies wat onlangs met Annette Roux Wall se groot koek gebeur het – die een wat sy vir die ANC se 108ste verjaardag bash in Kimberley gebak het.

Volgens haar het sy hiervoor baie krediet en ’n bietjie kritiek, veral van haar “eie mense” gekry.

In die eerste plek het hulle (en die media) die prys van die koek heeltemal oorskat.

Bedrae van R127 000 het die wêreld vol gelê. Ander het gespot haar koek lyk dan net soos ’n doo(d)s­kis ...

Sy reageer: “Ek het die koek gemaak en dit het nie R127 000 gekos soos ’n Afrikaanse Sondagkoerant berig het nie.

“As dít waar was, dan was ek dalk nou op die beach aan die celebrate met ’n lang cocktail.

“After all moes my gesin ons lekker karavaan-vakansie met drie dae kortknip.”

Volgens Roux Wall het sy voorheen al vir Gwede Mantashe ’n koek gebak en daarom weet sy nie waarom enkele mense nou so gal braak oor ’n “ANC-koek” nie.

Haar koek was 3 m by 1,5 m, net soos Luthuli-huis voorgeskryf het.

Sy sê dit was ’n groot uitdaging. Eerstens moes dit groot en plat wees en natuurlik in die geel, groen en swart van die ANC wees.

Behalwe dít, moes haar besigheid se venster ook uitgehaal word sodat die koek daardeur kon gaan.

Sy moes aanvanklik 47 kleiner koeke bak en dit dan saamvoeg tot die groter geheel.

Dié is die koek se bestanddele:

580 eiers

64F melk

34F kookolie

55 kg suiker

53 kg meel

2 kg kakao

1,3 kg bakpoeier

18 kg botterroom-versiersuiker

16 kg fondant

Ekonomie

Dié reusekoek kry nog baie kommentaar, veral in die sosiale media.

Een van haar “eie mense” het op Facebook gevra: “Hoekom sal mens vir ’n klomp terroriste ’n koek wil bak? Hulle (African National Criminals) het een doel ten oë en dit is om die land se ekonomie ten gronde te laat gaan.”

Roux Wall is egter nie hieroor geworry nie. Sy sê weet sy kan nou haar goeie poging op haar CV sit. Sy voel “business is business, finish en klaar”.

Sy is die eienaar van Designer Cakes & Baking Creations in Kimberley.

Hierdie helse groot poging gaan haar besigheid na groter hoogtes neem. Dit is ook die algemene gevoel onder die publiek.

Intussen wonder en gis baie steeds oor die koek se prys en hoe dit gesmaak het.

Oor die prys is Annette so toe soos ’n koekblik, want dis niemand se besigheid nie. Sy hou wel voet by stuk die koek het nie R127 000 gekos nie.

Riaan Cloete, ANC-burgemeester in Springbok, het só gereageer oor die smaak van die prys: “Ons het die koek gesny en dit toe maar aan ’n tehuis geskenk.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters