’N SEUN (17) van Mpumalanga is dood ná ’n bakleiery met ’n medeleerder – oor ’n dobbelspeletjie.
Die slagoffer en die vermeende oortreder is beide gr. 11-leerders.
Een leerder het die 17-jarige na bewering tydens die stryery oor die kop geslaan.
Volgens brig. Leonard Hlathi, ’n woordvoerder van die polisie, het die twee Maandag buite die skool gespeel.
“Die 17-jarige seun het begin stry oor die speletjie. Dit het in ’n vuisgeveg ontaard.”
Verklaar
Hlathi sê die een seun het die ander een met ’n baksteen op die kop geslaan.
“Hy is ernstig beseer. Onderwysers het hom na die kliniek gerush vir behandeling. Hy is ongelukkig by sy aankoms daar dood verklaar.”
Jasper Zwane, woordvoerder van die onderwysdepartement in Mpumalanga, sê die seun se dood is ’n groot skok.
Die departement het sy meegevoel met die seun se familie uitgespreek en wag op ’n verslag vanaf die skool.