11 dae gelede
Stamlede teister swart boere
Boere en stamhoofde stamp kop
Boere en stamhoofde in Noordwes stamp kop.  ~ Verskaf

DIE spanning laai op tussen boere en die Phulo-e-Teng Farmers’ Association (PTFA) in Noordwes.  

Volgens die boere het PTFA-lede hul grond betree en hulle geïntimideer. Die onafhanklike boere huur die grond van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. 

David Phuduhudu (54) het 50 beeste verloor nadat sy plaas binnegeval is. “Dis baie frustrerend dat hulle my beeste vat om my te verdryf. Hulle bring heeltyd goed hier aan en sê ek moet die plaas verlaat, want dis hulle s’n.” 

Keiponye Khutlang, ook ’n boer, sê dinge het al gewelddadig geraak. “Hulle het my sommer begin aanval en selfs my hand seergemaak. Hulle het gesê ek moet nooit teruggaan plaas toe nie, want ek wil nie saamwerk met die mense wat hulle op die plaas gesit het nie. Dit lyk of dit net meer probleme veroorsaak as ’n mens ’n saak van betreding maak, want nou dreig die gemeenskap ons en sê ons moet wegkom van hul grond.” 

Die PTFA sê die verhuurde grond is gemeenskaplik en moet tot voordeel van die hele gemeenskap aangewend word.  

“Grondsake het ons grond gevat sonder om met ons te praat, so ons vat nou ons grond terug. Ons gaan nie jammer sê aan dié wat op ons grond woon nie, want hulle wil nie eens vir ons luister nie,” sê een lid. 

“Niemand het ook vir ons verduidelik hoekom die grond uit stamhande gevat is nie. Nou het ons ons beeste na die Morna 2-plaas geskuif, maar die polisie het dit gevat. Ons weet nie waar ons beeste is nie,” sê ’n ander. 

Die provinsiale owerhede veroordeel die tipe oorname van grond. 

Richard Keothaile van die departement sê: “Gemeenskapslede val die grond onwettig binne. In Januarie is grond en plase binnegeval wat die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust in die tuisland-era gekoop het. Sulke plase is vir ontluikende swart boere gekoop en swart boere van dieselfde areas gebruik dit.  

“Die departement pleit by die boere om by die administratiewe proses te hou. Die regering sal aanhou om gemeenskaplike gebiede onder die beheer van stamhoofde te ontwikkel.” 

Volgens die polisie het twee mense voorgekom vir betreding. ’n Saak van saakbeskadiging word ondersoek. – SABC News 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters