4 maande gelede
Kommissie van loterye weer bekyk
Die spesiale ondersoekeenheid het die kantore van die nasionale lotterykommissie geraid.  ~ 

DIE spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Dinsdag 'n klopjag by die kantore van die Nasionale Loterykommissie (NLK) in Pretoria uitgevoer as deel van hul ondersoek na bewerings van korrupsie en wanadministrasie.

Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, sê aan TimesLive hulle is Maandag 'n lasbrief toegestaan om dokumente by die kommissie te kry.

Volgens Kganyago is hulle in die proses om inligting te versamel en ondersoek alle transaksies vanaf 1 Januarie 2014.

TimesLive berig die SOE ondersoek bewerings van ernstige wanadministrasie, die onregmatige toewysing of besteding van openbare geld of eiendom, die onbehoorlike of onregmatige gedrag van werknemers of beamptes asook die doelbewuste of nalatige verlies van openbare geld of skade aan openbare eiendom.

Die NLK verseker in 'n verklaring alle rolspelers die daaglikse bedrywighede van die kommissie gaan nie deur die ondersoekproses geraak word nie.

Volgens die NLK is daar al twee keer in die verlede ondersoek ingestel na die onbehoorlike gebruik van fondse.

"Die bevindinge van die twee ondersoeke moet nog afgehandel of gekommunikeer word," lui die verklaring.

"Soos met alle vorige interne en eksterne ondersoeke, gaan die NLK hul volle samewerking aan die SOE gee totdat die proses afgehandel is."

Die NLK het ook weer sy verbintenis tot skoon regering en verantwoordbaarheid beklemtoon.


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters