10 dae gelede
Senekal- saak tot volgende jaar uitgestel
Andre Pienaar
Andre Pienaar  ~ News24

DIE saak teen André Pienaar, wat teregstaan op aanhitsing van geweld wat na bewering daartoe gelei het dat betogers op 6 Oktober die Senekal-landdroshof bestorm het, is tot 2021 vir privaat sielkundige assessering uitgestel.  

 Tydens die oproer is 'n polisievoertuig omgedop en na bewering aan die brand gesteek.

Die betogers het na bewering ook probeer om die aanhoudingselle aan die brand te steek.

Daar is ook twee geweerskote afgevuur toe betogers die hofgebou bestorm het, maar daar is nog nie bewys wie die skote afgevuur het nie. 

Chaos het in dié klein Vrystaatse dorpie uitgebreek ná die eerste verskyning van Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa.

Dié twee staan tereg op die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner, wie se lyk op 2 Oktober op 'n plaas in Paul Roux gevind is.   

Pienaar en sy medebeskuldigde, S.J. Fourie, het Vrydagoggend vlugtig in dieselfde hof verskyn.   

Die saak is uitgestel tot 1 Maart 2021 vir verdere ondersoek deur die staat, asook om Pienaar deur privaat psigiaters te laat assesseer.  Tydens Pienaar se borgtogaansoek verlede maand het sy prokureur aangedui dat Pienaar aan bipolêre versteuring ly.

Hy is die eienaar van 'n konstruksieonderneming in Senekal.   

Die staat voer aan dat Pienaar die geweld aangehits het en dat hy, Fourie en ander die hofgebou bestorm het om die beskuldigdes in die hande te kry en in die proses hofbesittings beskadig en hofpersoneel aangeval het.   

Beide Pienaar en Fourie, wat van aanhitsing van geweld, openbare geweld en poging tot moord aangekla is, het aan die hof gesê dat hulle van plan is om onskuldig te pleit op die aanklagte. – News24 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters