27 dae gelede
Regstappe word oorweeg teen die wie skole ontwrig
ANGSTIG: Ouers het laas week strate toe gegaan om hul stem dik te maak en ’n beroep op die departement van onderwys te doen om die skole te sluit.  ~ Jonathan Lestrade

REGSTAPPE word oorweeg teen diegene wie skoolonderrig ontwrig.

In 'n verklaring sê die raad van onderwysministers dat hulle met teleurstelling kennis geneem het van pogings deur politieke en burgerlike organiasies om onderrig by skole in die land te ontwrig.

Daar word onder meer melding gemaak hoe van die organisasies die howe genader het en steeds nie suksesvol was om die heropening van skole te stop nie.

"Hulle is nou daarop ingestel om dreigemente en ontwrigtings te gebruik om hul doel te bereik," lees die verklaring verder.

Die raad doen 'n beroep op diegene wie gegrief is met die heropening van skole om bestaande platforms te gebruik en in gesprek te tree met die owerhede.

"Dit is 'n jammerte dat leiers skole kies vir 'n politieke spel, terwyl die departement van basiese onderwys daaraan werk om te midde Covid-19 'n veilige omgewing vir leer en onderig te skep.

"Indien hulle nie die politieke spel stop nie, het die raad geen ander keuse as om die nodige stappe te neem vir opvoeders; leerders en ouers wie hul kinders terug wil neem skool toe."

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê: "Die departement is daarvan bewus dat sommige ouers nie hul kinders, van wie sommige onderliggende siektes het, wil terug stuur nie. Dit is 'n feit wat die departement goed verstaan.

"Vir hierdie ouers is daar voorsiening gemaak, soos toegelaat word deur die skolewet. Ouers kan hiervoor by die provinsiale onderwysdepartemente aansoek doen."

Die raad van onderwysministers doen ook 'n beroep op die wie gegrief is om nie die reg van ouers wie hul kinders wel wil skool toe stuur te ontneem nie.

Intussen sluit die raad nie die moontlikheid uit om die howe te nader vir 'n beskermingsbevel teen die wie skole ontwrig nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters