13 dae gelede
Ramaphosa: SA sal raad gee as VSA vra
Pres. Cyril Ramaphosa  ~ Argief

SUID-AFRIKA het aangebied om sy ervaringe van ’n vreedsame oorgang tot ’n demokrasie met Amerika te deel as hulle daarvoor vra, het pres. Cyril Ramaphosa gesê.

Ramaphosa se aanbod kom nadat ondersteuners van pres. Donald Trump Woensdag die Kongresgebou in Washington D.C. bestorm het. Vyf mense is weens die chaos dood.

“Ek was bly om te hoor een van hulle sê hulle het baie om te leer – selfs van Nelson Mandela en Suid-Afrika,” het Ramaphosa in ’n onderhoud met die SABC se Mzwandile Mbeje gesê.

“As hulle inderdaad iets by ons wil leer, is ons gereed om ons ervaringe met hulle te deel oor hoe ons ’n moeilike situasie oorkom het wat ons aan die vooraand van ons demokrasie in die gesig gestaar het.”

Ramaphosa het erken hy was soos baie ander mense in die wêreld geskok oor die gebeure in Washington D.C., maar sê Amerika moet ruimte gegun word om die probleem op te los.

“Dis ’n kwessie wat hulle moet oplos. As ’n mens die nuusberigte lees en televisie kyk, is hulle in die proses om dit te doen. Al wat ons kan sê, is dat ons hulle die beste toewens terwyl hulle hul eie demokrasie probeer stabiliseer,” het hy afgesluit. – News24


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters