14 dae gelede
Ramaphosa ferm in verjaarsdagboodskap
Pres. Cyril Ramaphosa  ~ Netwerk24

DIE ANC strewe na eenheid, maar dit kan nie gebruik word om lede te beskerm wat kwaaddoen nie, het pres. Cyril Ramaphosa in die 8 Januarie-verklaring gesê.

Dié verklaring van die nasionale uitvoerende komitee is Vrydag op die ANC se 109de verjaarsdag virtueel vanuit Luthuli-huis voorgelees.

Ramaphosa het weer beklemtoon partylede wat van korrupsie beskuldig word, moet by die integriteitskommissie verantwoording doen.

“Ons gaan die ANC se integriteitskommissie versterk sodat dit sonder vrees of guns beslissend teen korrupsie en kwaaddoenery kan optree,” het hy verseker.

Ramaphosa het gesê mense wat onder ’n wolk van verdenking is, moet die integriteitskommissie uit vrye wil nader.

“Ons gaan nie enige lid van die ANC duld wat ons organisasie in oneer bring nie. Terselfdertyd doen ons ’n beroep op ANC-lede om gedagtig te wees daaraan dat hulle ’n organisasie verteenwoordig en nie hulself nie,” het hy gewaarsku.

Ramaphosa het gesê die ANC moet openbare vertroue terugwen deur progressief aan die behoeftes van die mense te voldoen. Dit moet bekwame kaders in verantwoordelike posisies aanstel, openbare hulpbronne eties bestuur en swakhede erken.

“ANC-leiers moet by die mense verantwoording doen oor die stand van munisipaliteite wat deur regeringsuitdagings, stabiliteit, dienslewering en finansiële bestuur in die gesig gestaar word.”

Ramaphosa het ook gesê Covid-19 is die regering se topprioriteit, terwyl hy gewaarsku het teen disinformasie en samesweringsteorieë oor die virus en entstowwe.

Hy het ook genoem maatreëls moet geïmplementeer word om drankmisbruik te verminder. – News24


 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters