6 dae gelede
Plunderaars spring dalk die tronk vry
VAS: 'n Polisielid pluk ’n vermeende plunderaar uit 'n winkel.  ~ Mlungisi Louw

PLUNDERAARS en mense wat tydens die onlangse grootskaalse onluste met gesteelde goedere betrap is, kan moontlik tronkstraf vryspring.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het Woensdag tydens 'n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gesê dat waar dit geregverdig word sal herstellende geregtigheid toegepas word.

"Met betrekking tot die laagste vlak van oortreders, moet ons verstaan dat hoewel armoede die optrede van sommige mense gedryf het, moet dit nooit 'n rede wees om misdaad te pleeg nie.

"Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het empatie en verstaan. Elke saak sal op meriete oorweeg word en waar dit geregverdig word, sal dit oorweeg word om herstellende geregtigheid op die lae-vlak oortreders toe te pas."

Daar word onder meer na skulderkenningsboetes en pleitooreenkomste gekyk.

Oortreders van ernstiger misdrywe wat weens beplande optrede groot hoeveelhede eiendom gesteel het, asook aanhitsers tot die geweld, staar wel swaarder vonnisse in die gesig.

Adv. Rodney de Kock, adjunk-nasionale direkteur, het bygevoeg: "Selfs lewenslange tronkstraf kan selfs opgelê word in gevalle waar bevind word sindikate was betrokke.

Tussen 12 en 16 Julie is 618 nuwe sake met 1 249 beskuldigdes op die hofrol geplaas. Sedert 19 Julie is 69 nuwe sake van 110 beskuldigdes op die hofrol geplaas.

Intussen sê die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, dat tronke in beide KwaZulu-Natal en Gauteng weens oorbevolking tans onder druk is.

Altesaam 1 498 nuwe gevangenes is weens die onluste in die tronke opgeneem.

Hy voeg by dat daar wel maatreëls in plek is om die uitdagings van oorbevolking te hanteer.

"Ons verseker egter dat geen oortreder wat deel geneem het aan die onluste geregtigheid sal vryspring nie. Die oppergesag van die reg sal seëvier."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters