11 dae gelede
Pa kry 2x life ná hy dogters verkrag
Hofuitspraak
Die pa het deurentyd volgehou hy het nie die kinders verkrag nie.  ~ Foto Verskaf

DIE Ntuzuma-streekhof het ’n pa (44) van Inanda in Durban twee lewenslange vonnisse opgelê oor hy sy twee dogters herhaaldelik verkrag het.

Die man, wat ’n spraak- en gehoor-gebrek het, het sy ouer dogter verkrag van 5 jaar oud totdat sy 15 was. Hy het ook sy sesjarige dogter verskeie kere verkrag.

Die man se identiteit word weerhou om sy dogters te beskerm.

Die pa het sy dogters na bewering in die nag in hul huis verkrag. Hy, sy vrou en nog twee ander kinders bly in hierdie huis. Sy vrou, wat ook gehoorgestremd is, dra nie kennis van die verkragtings nie.

Volgens Natasha Kara van die nasionale vervolgingsgesag was albei kinders aanvanklik bang om die saak aan te meld, maar dinge het in Januarie 2019 verander.

“Terwyl die sesjarige saam met haar maatjie gespeel het, het sy genoem wat haar pa aan haar doen. ’n Volwassene het die gesprek gehoor."

Die kwessie is aan die gemeenskapsleier geopper en ’n saak is gemaak.

Kara voeg by dat die ouer dogter toe meer besonderhede oor die verkragtings gegee het.

Die NVG is bly oor die suksesvolle vervolging wat verkry is ten spyte daarvan dat die pa dwarsdeur die hofverrigting volgehou het dat hy nie sy dogters verkrag het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters