14 dae gelede
OVK is tevrede, al was daar terugslae
Kate BapelaFoto: cornel van heerden/beeld  ~ 

PROTESAKSIE en ’n tekort aan stembriewe het die nasionale en provin­siale verkiesings regoor die land tydelik onderbreek.

Tog is die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) tevrede met die stemproses wat op 8 Mei plaasgevind het.

“Nietemin was daar terugslae, insluitend voortdurende onrus onder gemeenskappe in afgeleë gebiede, wat die ver­kiesingsbedrywig­hede geaffekteer het.

“Ten spyte van die poging van die sekuriteits-agentskappe, regeringsverteenwoordigers en die Verkiesingskommissie, het vyf stemlokale teen 17:00 nog nie geopen nie,” sê Kate Bapela, OVK-woordvoerder.

Twee van die stemlokale is geleë in Buffalo City en Ntabankulu in die Oos-Kaap en drie in die Inkosi Langalibalele-munisipaliteit in die uThukela-distrik in KwaZulu-Natal.

Daar is steeds pogings aangewend om kiesers in die geaffekteerde areas die kans te gee om hulle demokratiese reg uit te oefen deur te stem, sê sy.

Vier stemlokale wat in Vuwani in Limpopo oopgemaak het, is geforseer om toe te maak weens onrus en kommer oor veiligheid.

Dié stemlokale is egter teen 17:00 weer geopen.

Volgens Bapela is die OVK hartseer oor die gebrek aan respek vir die demokrasie en die regte van ander in dié areas.

Gebrek

“Klagtes is ook ontvang van ’n tydelike tekort aan stembriewe by sommige stemlokale waar die verspreidingsplanne nie ten volle geïmplementeer is nie.

“ ’n Faktor wat bygedra het tot dié tekort was die vergunning dat kiesers by enige stemlokaal in hulle provinsie kon stem.

“Die meeste tekorte is vinnig opgelos deur die herverspreiding van stem­briewe en die gebruik van reserwevoorraad en die stemmery het toe vinnig voortgegaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters