Verlede maand
Marc Batchelor sterf in koeëlreën

DIE voormalige Orlando Pirates en Kaizer Chiefs-speler Marc Batchelor is Maandagaand deur twee mans op 'n motorfiets buite sy huis in Johannesburg doodgeskiet.

Lungelo Dlamini, 'n polisiewoordvoerder, het aan News24 gesê Batchelor het om 18:00 met sy tuinier gery toe die mans op hom losbrand.

"Hy is verskeie kere deur sy motor se venster geskiet en is op die toneel dood," sê Dlamini.

Hy se die motief vir die moord is nog onbekend.

Geen verdagtes is nog gearresteer.

Batchelor is een van 'n handjievol spelers wat vir albei Kaizer Chiefs en Orlando Pirates gespeel het.

Volgens EWN het die striker sy loopbaan in 1990 in Amerika begin voordat hy twee jaar later by Wits aangesluit het.

Hy is kort daarna deur Pirates opgeraap. Hy het in sy loopbaan die 1994 League-titel, 1995 African Champions-beker, die BP Top 8 in 1996 en die African Super Cup in 1996 gewen.

Batchelor is in 1999 deur Chiefs geskors toe hy glo 'n spanmaat gewurg en gedreig het om hom dood te maak.

Hy het ná sy loopbaan as spelers as ontleder vir SuperSport begin werk.

Hy is in 2007 egter van die lug gehaal ná bewerings dat hy en drie ander mans 'n Johannesburgse sakeman by 'n restaurant in Parkhurst aangerand het. 

Hy was ook 'n getuie in die Oscar Pistorius-moordverhoor waar hy oor die die voormalige Paralimpiese atleet se humeur getuig het. 

Batchelor het ook noue bande gehad met Mikey Schulz, wat in 2005 erken het dat hy die mynmagnaat Brett Kebble in 2005 doodgeskiet het. - EWN




Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters