8 dae gelede
Ou antie met vrag dwelms betrap
Vonds: Dié drugs is in die taxi-passasier se bagasie gevind.  ~ Verskaf

DIE polisie in die Noord-Kaap het onlangs ’n antie vasgetrek wat dwelms op ’n taxi vervoer het.

Nomthandazo Mnisi, ’n woordvoerder van die Valke, sê ’n 60-jarige vrou is Woensdag op ’n taxi vasgetrek ná ’n wenk van die publiek.

Die honde-eenheid van Nababeep het haar in Okiep gearresteer nadat hulle die taxi ingewag het. Die taxi was vanaf Kaapstad na Springbok onderweg.

Nadat hulle haar bagasie deursoek het, is Mandrax-tablette en dagga ter waarde van sowat R49 000 gekonfiskeer.

Die antie het reeds Donderdag vlugtig in Springbok in die hof verskyn. Sy staan tereg op ’n aanklag van dwelmhandel.

Volgens die eienaar van die taxi is dié antie waarskynlik nie met die Springbok-omgewing bekend nie.

Noppies

Alles dui daarop dat sy heel moontlik van die Oos-Kaap is.

Die cops is in hul noppies dat die publiek hulle dié soort inligting gegee het.

Die N7 is ’n gewilde roete waarlangs dwelms gesmokkel word met taxi’s, passasiersbusse, vragmotors en voertuie van die publiek.

Baie van die onwettige items is vir die mark in Namibië bedoel wat ook op hierdie roete lê.

Volgens Mnisi is dié saak en die verdere ondersoek daarvan intussen aan die Valke oorhandig.

Die antie moet weer môre hof loop. Sy is steeds in aanhouding.

  • In 2020 is dwelms ter waarde van byna R500 000 onder die sitplekke van ’n taxi by die weegbrug buitekant Springbok gevind.

Dit was in twee plastic shopping bags versteek.

Die cops het die tik ten bedrae van R230 000 en Mandrax ter waarde van R130 000 gekonfiskeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters