4 dae gelede
Opod bekyk voorval ná man sterf
SAPS crime scene tape surrounding field
Die skietvoorval word nou deur Opod ondersoek.  ~ Foto ter illustrasie: Gallo Images

DIE Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek 'n voorval waarin 'n man in die Noord-Kaap gesterf het nadat hy deur 'n polisievrou geskiet is.

Die man het na bewering gedreig om die polisiekonstabel met 'n mes te steek.

TimesLive berig die konstabel en 'n kollega was Sondag in Port Nolloth na 'n toneel uitgeroep waar 'n bakleiery plaasgevind het.

Daar het hulle 'n 24-jarige man bebloed en met 'n mes gevind.

Die man het kort daarna na 'n huis gehardloop en gedreig om iemand te steek. 

Grace Langa, Opod-woordvoerder, sê aan TimesLive die man het later na die polisievrou gedraai en gedreig om haar met die mes te steek.

Die verdagte het die polisievrou se herhaaldelike waarskuwings geïgnoreer. Die man se familie en ander gemeenskapslede het ook probeer ingryp.

Sy het in 'n stadium op die grond geval en die man het steeds met die mes na haar beweeg. Sy het toe 'n skoot afgevuur.

Die koeël het die verdagte in die agterstewe getref. Hy het inmekaar gesak en is later in die hospitaal dood.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters