11 dae gelede
Mense meen dié dood was lokval
Ronaldo Joseph  ~ 

’N JONG diamantdelwer is vermoedelik in ’n lokval gelei en toe doodgeskiet.

Dít is wat die gemeenskap van Namakwaland voel nadat Ronaldo “Babeto” Joseph (23) onlangs geskiet is.

Na verneem word, was Joseph ongewapen en besig om te vlug van lede van ’n Kaapse sekerheidsmaatskappy. Dit het by die Nuttabooi-diamantmyn naby Kleinsee gebeur.

Joseph, van Komaggas, was lid van ’n groep wat sonder permitte gaan delf het. Hulle was agterop ’n oop bakkie by die Nuttabooi-diamantmyn.

Nuus oor die voorval het viral gegaan op Facebook.

Wegry

Joseph word Saterdag in Komaggas ter ruste gele. Die sakeman Louis Liebenberg het onderneem om die Joseph-gesin te help met alle aksies wat hulle teen die mynmaatskappy gaan loods.

Chris Kimber, eienaar van LOR Diamonds (wat Nuttabooi beheer), het nie op Son se navrae om kommentaar ge­reageer nie.

Joseph se neef Angelo Cloete (24), wat ook ’n delwer is, was saam met hom en drie ander mense op die bakkie.

Hy het gesê: “Die sekuriteit het skiet-skiet op ons afgekom sonder om te praat.

“Ons het probeer wegry van die myn af, maar hulle het ons voorgekeer.

“Ons het gestop, maar hulle het weer oopgemaak sodat ons kon deurry.

“Hierna het hulle agter ons gery en vir Ronaldo in die mond geskiet.”

Volgens Joseph se pa, Rudie Joseph, het hy van die kamp na die bakkie gehardloop toe hy die skote hoor.

Hy het sy seun bebloed en hulpeloos op die bakkie gesien lê. Sy seun het toe nog ’n ligte pols gehad. Hy het met dié woorde in sy arms gesterf: “Sorry, Pa.”

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, was daar ’n onderonsie tussen onwettige delwers en die sekerheidswerkers by die Nuttabooi-diamantmyn.

Hy het gesê: “Die polisie van Kleinsee het ’n moorddossier geopen. Tot op hede is niemand nog oor die voorval in hegtenis geneem nie. Die saak word ondersoek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters