10 dae gelede
Meer as 7 000 vas wat nie maskers dra
Bheki Cele, minister van polisie, sê dis nie lekker vir wetstoepassers om die arrestasies te maak nie.  ~ Argief

MEER as 20 000 mense is sedert die begin van die aangepasde vlak-3 van die inperking in hegtenis geneem of beboet.

News24 berig 7 455 mense, wat sonder maskers in die publiek geloop het, is sedert 29 Desember in hegtenis geneem. Nog 834 mense is oor drankverwante oortredings toegekap.

"Ek wil net die punt beklemtoon dat wetstoepassers dit nie geniet om sulke arrestasies te maak nie omdat die wette daar is om te help om die verspreiding van die corona-virus te stuit," het Bheki Cele, minister van polisie, gesê. 

Cele het almal gevra om die wette van die land te respekteer.

Intussen het Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, in 'n verklaring gesê die statistieke sedert 1 Januarie vir sy departement is kommerwekkend.

Van die 412 kantore, moes 266 een of ander tyd sedert die begin van die inperking in Maart verlede jaar gesluit het.

Tussen Maart en Desember 2020 het altesaam 532 personeellede positief vir Covid-19 getoets. In die eerste agt dae van Januarie het 116 personeellede positief getoets. 

Sewe beamptes is reeds in die eerste 10 dae van die jaar aan die virus dood.

Motsoaledi het ook aangekondig kantore van binnelandse sake gaan tot 19:00 oop wees om die aanvraag van doodsertifikate te hanteer.

Op 4 en 5 Januarie, die eerste twee werksdae van die jaar, is amper 11 000 sterftes geregistreer.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters