14 dae gelede
Mdluli nie meer skuldig
Richard Mdluli  ~ Argief

RICHARD Mdluli, die voormalige baas van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, se skuldigbevinding op vier klagte van intimidasie is Donderdag in die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg omgekeer.

Die staat het aangevoer dat die konstitusionele hof se bevinding in Oktober, dat dele van die Wet op Intimidasie ongrondwetlik is, 'n "diepgaande impak" het op die klagte waarvoor Mdluli op 30 Julie skuldig bevind is. 

Adv. Zaais van Zyl, die staatsaanklaer, het aangevoer dat Mdluli vrygespreek behoort te word op die vier klagte van intimidasie.

Ike Motloung, Mdludi se advokaat, het met hom saamgestem.

"As die konstitusionele hof gepraat het, is dit klaar. Die uitspraak is terugwerkend en is van toepassing op dié saak omdat dit nog nie afgehandel is nie. Wat die uitspraak sê is dat Mdluli aangekla is ingevolge 'n wet wat nie bestaan nie."

Regter Ratha Mokgoatlheng het uitgewys dat die wet wel bestaan het voordat dit ongrondwetlik verklaar is.

"Die grondwetlikheid van die wet het verander. Dit beteken nie dit het nooit bestaan nie," het Mokgoatlheng gesê voordat hy Mdluli nogtans vrygespreek het. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters