19 dae gelede
Man skiet homself dood
EGPAAR: Karen de Villiers sê haar man, Juan (regs), het sy dood beplan.  ~ Foto Verskaf

’N MAN van Springbok is dood nadat hy homself in die kop geskiet het.

Hierdie tragiese voorval het Maandagnamiddag in die dorp se besige hoofstraat gebeur.

Die inwoners vertel ’n maroenkleurige Jeep het regoor Hoërskool Namakwaland gestaan toe hulle net ’n harde knal hoor.

Volgens verbygangers op die toneel het hulle orals bloed en dele van die persoon se kop gesien.

’n Vuurwapen en selfoon is by die dooie, Juan de Villiers (48), gevind.

Hy is daar op die toneel dood verklaar.

De Villiers was die vleis­bemarkingsbestuurder by ’n plaaslike supermark.

Sy vrou, Karen de Villiers, het huilend vertel dat sy stukkend is: “My man het sy dood beplan.

“Ek is tot niet en weet nie hoe ek dié keer hierdeur sal kom nie. Maar die Here sal my help.

Hartseer

“Ek het drie minute lank met hom op die foon gepraat en toe hoor ek die geweerskoot.

“Ek kon niks daaraan doen nie en ek was baie lief vir hom.”

Sy seun uit ’n vorige huwelik, Jan Jasper “JJ” de Villiers (20), het droewig vertel dat hy sy pa baie sal mis.

Sy voormalige kollegas is baie hartseer oor die tra­giese nuus.

Hulle almal het Juan bestempel as ’n mense-mens met ’n baie goeie hart.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisie-woordvoerder, het gesê dat die cops van Springbok ’n dossier geopen het om sy dood te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters