Verlede maand
Man in arres vir moord op ma en baba
Chantelle Ash en haar baba, Tasneem.  ~ Foto: Verskaf

’N MAN (29) van Bangladesj is Donderdag in Johannesburg gearresteer in verband met die moord op ’n ma en haar baba.

Chantelle Ash (28) en haar agt maande oue baba, Tasneem, se lyke is op 14 Januarie by die Maponya Lodge buite Mokopane in Limpopo gevind.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, ’n polisiewoordvoerder, het ’n onbekende voertuig die man, vrou en die baba om 19:00 op 12 Januarie by die hek afgelaai.

Die drie het na bewering ’n kamer vir die aand by die lodge gehuur. Hulle sou om 09:00 die volgende oggend uit wees.

Ngoepe sê: “Die ontvangs was die volgende oggend verbaas toe daar geen teken van die drie is nie en het gedog hulle het reeds die plek verlaat.

“Op 14 Januarie is die ontvangsdame na die kamer om dit skoon te maak.” 

Dit is toe sy die skokontdekking gemaak het.

Die liggame van die vrou en kind is gevind met hul hande agter hul rûe vasgebind. Die motief vir die moord is nog onbekend, maar gesinsgeweld word nie uitgesluit nie. -News24


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters