2 maande gelede
Ma kap kid (3) met klip dood
moenie oordeel: Nikolaas “Mannetjie” van den Heever praat buite die hof.Foto: Isaac Cloete  ~ 

’N MAMMIE wat na bewering haar seuntjie (3) met ’n klip doodgekap het, bly in aanhouding.

Die 33-jarige vrou sou gister in die Springbok-landdroshof verskyn vir die moord op haar seuntjie.

Die saak is egter uitgestel tot 28 Februarie vir nader ondersoek.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, brig. M.T. Ramatseba, het die voorval Vrydagaand naby Jakkalswater in Nababeep plaasgevind.

Die beskuldigde se stiefoupa, Nikolaas “Mannetjie” van den Heever, het Dinsdag by die hof gevra dat mense nie moet oordeel nie.

Volgens hom het die mammie Vrydagaand met die seuntjie op haar nek verby hom gestap.

Hy het hom toe speels geraps en grappenderwys gesê dat hy die kind nog sal neuk.

“Toe is die twee daar weg en ’n plaaslike cop het hulle langs die pad gekry en gegroet.

“Skaars ’n uur later was die mammie by die Nababeep-polisiestasie, waar sy aan dieselfde polisieman vertel het dat sy die seuntjie vermoor het.

“Aanvanklik het hulle gesê dat sy nonsens praat, maar later het hulle op die liggaampie afgekom.”

Van den Heever meen sy kon eerder die seuntjie by hom gelos het. Hy vertel verder dat die ma so sterk soos ’n perd was en vermoedelik met tik deurmekaar was, maar geen behandeling gekry het nie.

“Ek gaan die seuntjie baie mis, want hy was soos ’n maat vir my. Ek het hom as my kind aangeneem.

“Hy was baie ougat en vol bravade.

“Soms het hy op sy eie lekkers ‘op die boek’ by die kafee gaan koop. Dan het die winkeleienaar my net die skuld gewys wat betaal moes word.”

Intussen het die groepbevelvoerder van die polisie in Namakwaland, brig. Francis Hender, versoek dat gemeenskapslede hulp moet gaan soek as hulle nie maatskaplike probleme kan hanteer nie.

Nababeep word gery deur maatskaplike en ekonomiese probleme.

Daar word verwag dat die seuntjie Saterdag uit die Rooms-Katolieke Kerk hier begrawe sal word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters