8 dae gelede
Lyk gevind, 3 vas ná gesin se ontvoering
elzabie brand,breggie brand,danie brand
Elzabie saam met haar ouers Breggie en Danie Brand  ~ Netwerk24

MINSTENS drie persone is al gearresteer en ’n moordsaak word ondersoek ná drie gesinslede Sondag van hul kleinhoewe in Hartswater in die Noord-Kaap ontvoer is.

News24 berig die liggaam van een van die drie is Dinsdagoggend gekry. 

Die bejaarde Danie Brand (83), sy vrou Breggie (73) en hul 54-jarige dogter, Elzabie, wie by haar ouers die naweek gekuier het, is sedert Sondag saam met hul voertuie vermis.

Marius Muller, van AfriForum, het aan News24 gesê ‘n liggaam, wat glo Elzabie s'n is, is Maandagnag gevind.

“Vier mense is in Elzabie se gesteelde voertuig, wat vals nommerplate opgehad het, gevind. Die drie mans en ‘n vrou, wat nie ‘n verdagte is nie, is vir ondervraging ingeneem.” 

Muller voeg by dat die verdagtes Dinsdagoggend om 02:00 probeer uitwys het waar die ander twee liggame is, maar het deurmekaar geraak.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig dat drie persone gearresteer en dat Elzabie se liggaam gevind is.

“Die voorval is Maandag by die polisie aangemeld, toe ‘n familielid van Johannesburg onraad vermoed het toe hy nie sy ouers en suster sedert Sondag in die hande kon kry nie.

“’n Soektog is geloods en kort daarna is een van die gesteelde voertuie verlate in Majaneng in Taung in die Noordwes gevind. ‘n Tweede voertuig is in Pudimoe in die Noord-Kaap opgemerk.

Naidoo sê na verdere ondersoek is die dogter se liggaam in ‘n veld in die Takaneng Village in Taung gevind.

“Sy is vermoor, maar die oorsaak van haar dood is nog nie vasgestel nie.

“Die soektog na die bejaarde ouers duur voort en daar is ‘n moontlikheid van nog arrestasies.” 

Naidoo sê roof is vermoedelik die motief vir die aanval.

Enigeen met inligting word gevra om CrimeStop te kontak by 086 00 10111. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters