6 dae gelede
LUR en sy vrou word ondersoek
Dr Bandile Masuku  ~ Foto Verskaf

DR. BANDILE Masuku, die Gautengse LUR van gesondheid en sy vrou, Loyiso, 'n mayco-lid in die Johannesburgse munisipaliteit, is op verlof geplaas totdat 'n ondersoek na bewerings van hul betrokkenheid by die toekenning van 'n tender vir persoonlike beskermende drag afgehandel is.

Die tender van meer as R125 miljoen is toegeken aan Royal Bacha Projects, 'n maatskappy waarin die man van Khusela Diko, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, 'n direkteur is.

Diko het reeds spesiale verlof geneem totdat die ondersoek afgehandel is. Tyron Seale sal intussen as Ramaphosa se woordvoerder waarneem. 

Jacob Khawe, die ANC se provinsiale sekretaris in Gauteng, sê die provinsiale uitvoerkomitee (PUK) het tot die besluit gekom dat die drie verlof moet vat terwyl die party se integriteitskomitee die bewerings ondersoek.

Khawe sê die PUK se besluit was nie 'n poging om die wette van natuurlike geregtigheid te ondermyn nie, maar omdat dit glo daar moet 'n proses wees wat demonstreer dit verstaan die bekommernisse van die samelewing.

"Die objektiewe werklikheid is dat ons as die ANC, of ons daarvan hou of nie, vertroue onder ons mense verloor het oor ons vermoë en toewyding om korrupsie vas te vat."

Die integriteitskomitee is twee tot vier weke gegee om sy verslag oor die bewerings af te handel.

Jacob Mamabolo, die LUR vir vervoer, is intussen as waarnemende LUR vir gesondheid aangestel. - News24


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters