5 dae gelede
Kar maak ’n stop in selfoon-shop
WA-WA-WROEM: Die voertuig het binne-in die selfoonwinkel te lande gekom. Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

DIT gebeur ook nie aldag dat ’n voertuig pens en pootjies in ’n selfoon­winkel beland nie.

Onlangs was dié vreemde “kliënt” ’n Renault-motor. En die ongelukkige besigheid was die selfoonwinkel in Springbok.

Plaaslike inwoners vertel hulle het die voertuig sien ry en toe net ’n slag gehoor.

Een ooggetuie sê: “Ons het die twee persone in die voertuig gesien. Waarskynlik die eienaar en ’n dame.

“Hulle het in die hoofstraat, Voortrekkerweg, gery en toe deur die skuifdeur en traliehek gebars. Dit het gelyk asof die kar vlieg.”

Ander vertel die driver van die Renault het ná die voorval weggehardloop pleks daarvan om op die toneel te bly.

Luidens betroubare inligting was daar geen ernstige beserings nie.

Vir die kar en veral die gebou was dit ’n ander saak, want aansien­like skade is aangerig.

Baie inwoners is egter bly dit het nie in normale besigheidsure gebeur nie. Dis ’n bedekte seën meen hulle, anders kon personeellede en kliënte ernstig beseer gewees het.

Die gebou behoort aan ’n bekende sakeman wat talle geboue in Springbok besit.

’n Vrou wat toesig hou oor die geboue, het dié week anoniem vertel daar is skade van etlike duisende rande aan die gebou aangerig.

“Ons wag nog vir kwotasies sodat ons ’n volledige skade- en kosteberaming kan doen. Dit is dus moeilik om te kan bepaal wanneer die selfoonplek weer sake kan doen.”

Die securities moes die gebou en voorraad oor die naweek oppas.

Aangemeld

Verder is die publiek geloof omdat niemand begin het om die onbewaakte plek kaal te stroop, te beroof of te besteel nie.

Volgens kapt. Olebogeng Tawana, ’n polisiewoordvoerder, ondersoek die cops ’n saak van nalatige en roekelose bestuur.

Volgens hom is geen be­serings aangemeld nie en die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters