3 maande gelede
Juffrou wat kleuter aanrand gearresteer
kleuterskool
'n Kleuterskool-juffrou is gearresteer nadat sy op video betrap is terwyl sy 'n kleuter aanrand.  ~ skermgreep

DIE juffrou van 'n kleuterskool aan die Wes-Rand, wat op video opgeneem is terwyl sy kleuters aanrand, is deur die polisie gearresteer.

Yusuf Abramjee, 'n teenmisdaadaktivis, het die inligting van haar arrestasie op Twitter bekendgemaak waarna Phanyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, dit verwelkom het.

Die vrou het reeds in 'n hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

In die video wat Donderdag op sosiale media viral gegaan het word 'n kleuter van 'n skooltjie in Carletonville eers op die boude geslaan nadat sy opgegooi het.

Die kind is besig om skoon te maak terwyl die juffrou vra hoekom sy opgegooi het. Sy slaan die kind daarna dan herhaaldelik teen die kop.

Lesufi het op sy Twitter-rekening gesê hy kon nie eens die video klaar kyk nie.

Hy het genoem dat Nandi Mayathula-Khoza, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, die skool Donderdag om 15:00 sou besoek.

'n Twitter-gebruiker met die naam Tshepiso Skindeep het op Lesufi se post reageer en gesê die kleuter in die video is sy susterskind.

"Die video is twee jaar gelede geneem en ons het maar eers vandag uitgevind. Die evil vrou is sopas op borgtog vrygelaat," het hy getwiet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
36 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters