Verlede maand
Jozi se nuwe mayor sterf in ongeluk

DIE nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Jolidee Matongo, is Saterdag in ’n motorongeluk dood.

Matongo is op 10 Augustus as burgemeester aangestel. Hy het kwalik meer as ’n maand in die pos gedien.

’n Woordvoerder het sy dood aan News24 bekend gemaak. Dit is bevestig deur nog twee bronne in sy kantoor. 

Matongo het pres. Cyril Ramaphosa vroeër Saterdag in Soweto vergesel om hom te beywer vir die ANC voor vanjaar se munisipale verkiesing.

Hy is onbestrede as burgemeester van Joburg verkies as opvolger van Geoff Makhubo, wat in Julie aan Covid-19-komplikasies oorlede is.

Matongo was die mayco-lid vir finansies onder Makhubo.

Hy het deur die geledere gestyg nadat hy as lid van die Soweto-studentekongres en die kongres van Suid-Afrikaanse studente (Sasco) gedien het, voordat hy agt jaar as streekhoof van kommunikasie in die ANC gedien het.

Hy was ook die personeelhoof wat verantwoordelik was vir die algemene bestuur en funksionering van die kantore van die Gautengse LUR vir die departemente vir sport, ekonomiese ontwikkeling en landbou.

Matongo is in Soweto gebore.

Op die ouderdom van 13 het hy in studentepolitiek in die historiese township begin belangstel en lid geword van die ANC-jeugliga (ANCYL). Volgens die webwerf van die Stad Johannesburg is hy later as die voorsitter van die ANCYL verkies.

Hy was 18 jaar lid van die ANC se uitvoerende streekskomitee.

Matongo het hom meer as ’n dekade gelede by die staatsdiens aangesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters