Verlede maand
Jong vrou ontsnap lewe as seksslaaf
'n Jong vrou van Bloemfontein is vir twee maande as seksslaaf aangehou.  ~ Foto ter illustrasie: Son

’N JONG vrou van Bloemfontein se drome om haar eie haarsalon en musiekstudio te besit het in ’n nagmerrie ontaard toe die man wat haar drome sou bewaarheid, haar na bewering as ’n seksslaaf aangehou het. 

Luidens 'n polisieverklaring het Justice Lyke Ikachuku (37) die vrou op 4 Desember van haar huis af weggelok met beloftes dat hy ’n haarsalon en musiekstudio sou gee.

Ikachuku het die vrou na sy huis geneem waar hy haar as gyselaar aangehou het. Hy het toe die vrou gedwing om as ’n seksslaaf vir hom te werk.

Ikachuku het die vrou by verskeie gastehuise ingeboek waar sy kliënte ontmoet het. Die betaling vir die seksuele werk is aan Ikachuku betaal. 

Die vrou het op 14 Februarie ontsnap toe ’n kliënt haar ’n R350 gegee het. 

Kapt. Christopher Singo, ’n woordvoerder van die Valke, sê die jong vrou het reguit na die polisiekantoor gehardloop en ’n saak gemaak. 

“Die saak is aan die Valke se ondersoekeenheid teen ernstige misdade oorhandig. Ikachuku is op 26 Februarie in hegtenis geneem.”

Hy staan tereg op klagtes van mensehandel.

Hy het Dinsdag in Bloemfontein se landdroshof verskyn en is weer op 8 Maart in die hof vir ’n formele borgaansoek. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters