4 maande gelede
Jong ma kraam en cram voor eksamen
FAMILIE: Luyanda Morgan (heel links) met haar pa, Eric Phaku, en haar sussie Quintezeleigh Louw, asook hul suster se seuntjie, Rafique.  ~ Foto Verskaf

’N MATRIKULANT van die Vrystaat gee nuwe betekenis aan die woord “uithouvermoë” – sy het haar laaste vraestel in rekenaartoepassingstegnologie gaan skryf enkele ure nadat sy gekraam het!

Luyanda Natasha Morgan (18), ’n leerder aan die Hoërskool Pellissier in Bethulie, het Woensdagoggend omstreeks 03:00 in Trompsburg die lewe geskenk aan ’n gesonde babameisie, Linquinique. Woensdag 14:00 het sy haar plek ingeneem om die vraestel te voltooi.

Sy vertel: “Die vraestel was orrait. Hier en daar was daar iets wat my onkant gevang het, maar ek het lekker geskryf.”

Sy sê sy was goed voorberei vir die vraestel.

Draaipyne

Volgens Annie Phaku, Luyanda se ma, was die baba eers op 14 Desember verwag.

“Dinsdagaand het Luyanda begin kla van pyn. Ek het gedink dis seker net draaipyne.

“Sy wou kort-kort toilet toe gaan. Ek het haar gesê om te kyk na die kleur van die afskeiding.”

Toe die afskeiding toon die baba wil wel al kop uitsteek, het Annie 'n ambulans gebel.

“Ons het kort-kort gebel, maar hulle het lank gevat. My man, Eric, het die kar uitgetrek om haar self Trompsburg toe te neem. Net voordat ons kon ry, het die ambulans gekom.”

Annie sê weens die nuwe Covid-19-veiligheidsmaatreëls kon sy nie haar kind na die hospitaal vergesel nie.

“Ek en my man kon nie slaap nie. Toe ek haar ná 03:00 bel, was sy klaar.”

Sy sê sy is trots op haar kind wat nie haar skoolloopbaan opgeskop het nie.

“Sy sit elke dag met haar boeke. Ek het haar gister vermaan en gesê sy moet dit rustiger vat. In die ou dae moes ons 10 dae lê nadat ons gekraam het.”

Volgens Annie was sy en Eric baie sad en teleurgesteld toe hulle uitvind Luyanda is swanger, veral omdat sy die stil kind van drie meisies is én omdat dit in haar matriekjaar gebeur het.

“Ons wou net die beste vir haar hê. Haar droom was altyd om ’n dokter te word.

“Vanjaar het sy egter van besluit verander en wil nou onderwys gaan swot. Niks het verander nie. Pleks van net die matrieksertifikaat is daar nou ook die geboortesertifikaat van ’n klein mensie.”

Klein Linquinique se naam is ’n samevatting van die name van haar ma, haar antie Quintezeleigh en Rafique, haar nefie.

Die baba en haar mamma is albei perdfris en gesond.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters