6 dae gelede
Hoof terug in sy pos ná afdanking
Malcolm Williams  ~ Argief

DIE hoof van Parktown Boys' High Schol, wat afgedank is ná die dood van Enoch Mpianzi, is in sy pos heraangestel.

Malcolm Williams is in Desember 2020 afgedank oor sy rol in gebeure wat tot die 13-jarige se verdrinking gelei het.

Die Gautengse departement van onderwys het Woensdag in 'n verklaring gesê Williams se heraanstelling kom ná 'n besluit deur die Raad van Arbeidsverhoudinge.

Die Raad het ook opdrag gegee dat Williams vergoed word vir die ses maande wat hy nie gewerk het nie.

Williams sal na verwagting op 1 Julie amptelik terug agter sy lessenaar wees.

Die departement sê hoewel hulle teleurgesteld is, bestudeer hulle die besluit en win tans regsadvies daaroor in.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, sê: "Ons is nie heeltemal tevrede met die uitslag van die saak nie, maar ons besef ook dat die saak al te lank sloer, en dit beïnvloed almal wat geraak word.

"In die lig hiervan sal ons raad soek by kundiges met die oog om 'n finale oplossing vir die saak te kry." - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters