8 maande gelede
Honderde sê ‘bon voyage’ vir oom Sam
vaarwel: Oom Sam se kinders dra sy kis.Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

DAAR is die naweek in Namakwaland vaarwel gesê aan een van die bekendste sakelui in die vervoerbedryf.

Honderde roubeklaers het gister aan Samuel “oom Sam” van Wyk bon voyage gesê tydens ’n hartroerende begrafnisdiens in Nababeep, sy tuisdorp.

Behalwe ’n groot groep vriende en belangstellendes, het verskeie sakemense en persone in die vervoerbedryf vir oulaas totsiens gesê.

In die stampvol VGK was daar mense van alle bevolkingsgroepe, gelowe, politieke oortuigings, agtergronde en klasse.

Die baanbreker en legende in die vervoerbedryf het Donderdagaand in die Springbok-hospitaal in sy slaap gesterf.

Omsien

Die ou oom het vermoedelik onbewustelik te veel kalmeerpille gesluk. Hy was bewusteloos en die hospitaalpersoneel kon hom, ondanks hul pogings, nie bybring nie.

Ds. Jacques Jacobs het gelees uit Job 5:17-27 en gesê dat die dood ’n onwelkome gas bly, maar hy kom. God bly egter aan almal se kant, want God is hier.

Een van oom Sam se seuns, Les van Wyk, het vroeër aan Son op Sondag vertel dat hy die laaste tyd baie na sy pa moes omsien.

“Ons is vier broers wat hier op Springbok naby mekaar is. Ek was egter die enigste een op wie hy staat gemaak het.

“Die laaste tyd het hy my baie gebel. Soms moes ek hom hospitaal toe vat. Of soms wou hy net gesels.

“Hy het aan my baie diep stories vertel wat ek nie nou wil noem nie.”

Opbou

Laas Sondag nog, tydens ’n biduur, het Bertus “Yster” van Wyk, ’n neef van oom Sam, emosioneel gevra die kinders moet die verlede laat staan.

Hy het gesê: “Julle pa het net die beste vir julle bedoel.

“Hy was ’n streng man en het sy alles vir julle gegee. Ek hoop sy heengaan sal julle weer nader aan mekaar bring. Julle móét nou die besigheid verder opbou.”

Arno van Zyl, skrywer, komediant en storieverteller, het In ’n huldeblyk gesê oom Sam se begrafnis is die grootste wat hy al bygewoon het.

“Dit wys net watter besondere en dierbare mens hy was.

“Hy was nie ’n akademiese reus nie, maar ’n harde werker. Iemand wat besluit het om bo sy omstandighede uit te styg.

“Hy het met sy eie vlerke gevlieg. Baie se sukses is aan hom te danke.”

Oom Sam laat sy vrou, vier seuns en drie dogters agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters