Verlede maand
Hof: Jy het ’n sê waar jy isoleer
inperking: Minister Nko­sazana Dlamini-Zuma kry nóg ’n hofuitspraak teen haar lockdown-regulasies. Foto: NETWERK24  ~ 

NKOSAZANA Dlamini-Zuma (NDZ), minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het vir die tweede keer ’n bloedneus in die hof gekry. Twee dae ná mekaar, berig The Citizen.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het ’n hofbevel gegee wat die regering daarvan weerhou om enige iemand wat positief getoets is vir die virus in staats­fasiliteite onder kwarantyn te plaas as hulle hulself kan isoleer.

Afri­Forum het die saak teen NDZ voor die hof gebring. Dis die tweede saak in twee dae wat haar departement se magte om mense op hok te sit, inperk.

Weier

Die aansoek deur AfriForum verwys na regulasie 6 en 7 wat op 29 April deur NDZ gepubliseer is. Dit gee die regering die reg om ’n positiewe geval in ’n staatsfasiliteit onder kwarantyn te plaas.

Maar die hof het bevind dat iemand net onder kwarantyn geplaas mag word in so ’n fasiliteit as die persoon nie kan isoleer nie, of weier om dit te doen.

’n Persoon wat suksesvol kan self-isoleer, moet toegang hê tot ’n aparte kamer.

Vryheid

En laastens: As ’n persoon se gesondheid verswak, moet daardie persoon die vermoë hê om na ’n gesondheidsfasiliteit te gaan.

Ernst Roets van AfriForum het die uitspraak as ’n groot oorwinning vir vryheid en geregtigheid beskryf.

Die bepaling dat die regering mense op hok kan sit, is wyd gekritiseer. Dít kom nadat twee dokters in Limpopo in April uit hul huise geboender is waar hulle hulself geïsoleer het.

Hulle moes toe in ’n TB-hospitaal in Modimolle gaan sit nadat hulle positief getoets is, berig The Citizen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters