7 dae gelede
Hoës gewaarsku oor ‘ramp’
Lede van die Treatment Action Campaign tydens die arbitrasie oor die Life Esidimeni-tragedie.  ~ Lucky Morajane

DIT kan op 'n ramp uitloop.

So is die departement van gesondheid in Gauteng op verskeie kere gewaarsku oor hul besluit in 2016 om verstandelik gestremde pasiënte na nie-regeringsorganisasies (NGO) te verskuif.

Altesaam 144 pasiënte is in die sorg van die NGO's dood. 'n Geregtelike ondersoek onder leiding van regter Mmonao Teffo het Maandag begin om te bepaal of iemand strafregtelik aanspreeklik vir die sterftes gehou moet word

Dr. Basuku Morgan Makhatshwa, wat tussen 2012 en 2016 as besturende direkteur vir Life Esidimeni gewerk het, het Dinsdag getuig die departement het die besluit, om pasiënte te verskuif, geneem om kostes te sny.

Hy is deur dr. Magapo Manamela, voormalige direkteur van geestesgesondheid, dr. Barney Selebano, voormalige departementshoof, en Qhedani Mhlangu, voormalige LUR oor gesondheid, daaroor ingelig.

"Die koste van Life Esidimeni was reeds so laag as moontlik. Ek het aan die departement gesê ek twyfel om enige NGO dieselfde gehalte diens vir dieselfde koste kan lewer.

"Ons kon met die dienste aangegaan het sonder dat die gehalte daaronder ly omdat ons deel van 'n groter maatskappy was." 

Makhatshwa sê daar was selfs gevalle waar hulle nie deur die departement betaal is nie, maar die goeie sorg aan pasiënte het steeds voortgegaan.

Hy het ook getuig oor 'n proeflopie vir die verskuiwings wat skeefgeloop het. 

Altesaam 15 kinders is na 'n nie-regeringsorganisasie verskuif. Twee van die kinders is egter in die sorg van die NGO dood.

Die kinders is later na Life Esidimeni se fasiliteite teruggeneem. Hulle was ontwater en wanvoed.

"Hulle was in 'n baie slegte toestand. Ons wou seker maak so iets gebeur nooit weer nie."

Volgens Makhatshwa het hulle daarna aangebied om die departement te help met die goedkeuring van NGO's.

"Ons het nooit terugvoering daaroor gekry nie. Ons was ook nooit genooi om deel te neem nie.

"Ons wou nie net help met die goedkeuring nie. Ons het ook NGO's genooi om na ons fasiliteite te kom om 'n idee te kry oor wat op hulle wag en leer hoe om met geestelik verstande pasiënte te werk."

Makhatshwa sê hulle het aanhou amptenare van die departement gewaarsku dat die nagevolge van die verskuiwings dodelik kan wees.

Hy sê hy het dit veral aan Manemela en haar span gerig.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters