14 dae gelede
Groot sukses vir cops in die Namakwa-area
AFGEVAT: Dié bokse sigarette is gekonfiskeer.  ~ Foto Verskaf

SPRINGBOK. – Die plaas­like polisie het binne enkele dae sommer twee keer duisende sigarette en tjieng gekonfiskeer.

Hierdie sigarette was bedoel vir die swartmark in die Namakwa-area.

Lede van Springbok se polisie-eenheid vir openbare orde het Sondag ’n Ford Fiesta gestop.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, is die verdagte opgemerk in ’n kar wat uit Okiep se rigting aangery gekom het.

Toe hulle die motor stop en deursoek, is R119 460 in kontant in die motor gekry.

Volgens die polisie is dié geld uit tabakverkope gemaak.

Verdere ondersoek het die cops tot by ’n sakeperseel in Springbok gelei.

Op die perseel is entjies ter waarde van R241 474 gevind en gekonfiskeer. Die cops het ook ’n tweede verdagte gearresteer.

Hierdie tabakprodukte is vermoedelik onwettig vanuit Namibië oor die Oranjerivier na Suid-Afrika vervoer.

Volgens Ramatseba sal die direktoraat vir prioriteitsmisdaad die saak verder ondersoek.

Pakkies

Namakwa se eenheid vir openbare orde het Maandag nog drie verdagtes in ’n padblokkade op die N7 naby Garies gearresteer.

Hier het die cops 408 kartonne entjies, 20 pakkies 20 en 42 pakkies 10 gekonfiskeer. Die waarde word op sowat R280 000 geraam.

Die cops het ook in die proses op twee voertuie beslag gelê. Die ondersoeke duur voort.

Hoewel baie mense die cops prys oor hulle suksesse, is daar ook die wat nie lekker voel daaroor nie.

Een vrou sê: “Vang eerder die regte misdadigers wat moor en roof en los diegene uit wat wil werk om te oorleef.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters