9 dae gelede
Geliefde Nenna nou stil
Rus Sag
Die ikoniese aktrise en verhoogkunstenaar Sharleen Surtie-Richards is oorlede.  ~ Verskaf

DIE sprankelende Shaleen Surtie-Richards (66), oftewel Nenna soos sy in volksmond gedoop is, is nie meer met ons nie. 

Die land is in rou nadat die nuus Maandagoggend gebreek het dat die ikoniese aktrise met die flambojante persoonlikheid in haar huis gesterf het.

Dr. Danie van Wyk, 'n jarelange vriend van Sharleen, is onder diegene wat die nuus op sosiale media bevestig het.

“Wie sal haar sprankelende persoonlikheid en liefde vir die lewe ooit kan vergeet? Ek het haar in 1980 persoonlik ontmoet en ons het deur die jare vriende gebly. 

“Sy was ook ons programdirekteur tydens ons debutante toe ek destyds aan Ravensmead Senior Sekondêre Skool verbonde was. ’n Talentvolle mens wat nooit haar komvandaan vergeet het nie. 

“Rus sag vriendin. Jy het ons lewens in baie opsigte verryk. Tot ons weer eendag ontmoet,” skryf Van Wyk.

Die oorsaak van die geliefde aktrise se dood, is nog nie bekend nie, maar sy het in 2019 in ’n onderhoud saam met Hannes van Wyk van Kwêla verduidelik dat sy ’n diabeet is.

In die onderhoud het die veelbekroonde aktrise op haar unieke manier grappig gesê dat dit nog die oorsaak van haar dood gaan wees.

Sy het vertel dat sy ’n mini beroerte gehad het, terwyl sy nog ’n toespraak by ’n geleentheid moes lewer. Sy het toe in die intensiewe sorgeenheid beland.

“Ek het nog altyd suiker, ek sal seker eendag nog dood gaan van suiker,” het die aktrise op haar reguit manier gesê. 

Ons sal Sharleen altyd onthou vir die dinamiese rolle wat sy in produksies soos Fiela se Kind, Knysna, Twee Grade van Moord en Vaselinetjie vertolk het.

Die een karakter van Sharleen wat ons altyd sal bybly is dié van die geliefde Nenna, opsigter van Marlbro Mansions, in Egoli Plek van Goud.

Rus sag, Nenna, jy sal gemis word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters