6 dae gelede
Geliefde akteur Lieb sterf
Gesterf
Die veteraanakteur Lieb Bester is vanoggend oorlede.  ~ Verskaf

DIE geliefde akteur en TV-aanbieder Lieb Bester (72) is Woensdag oorlede.

Die veteraanakteur wat in gewilde Afrikaanse sepies soos Binnelanders, Spoorloos en Villa Rosa gespeel het, het sy stryd teen Covid-19 verloor.

Luidens ’n berig op News24 was hy weens Covid-19 twee weke gehospitaliseer. Hy is vir die eerste keer op 24 Junie hospitaal toe.Hy het teen dié tyd net 27?% nierfunksie gehad. Toe dit later tot 40?% verbeter, is hy huis toe gestuur om verder aan te sterk.

Ds. André Bester, broer van die medeaanbieder van Met ’n Huppel in die Stap, het die hartseernuus bevestig.

Lieb was ook ’n kranige musikant. Hy kon die klavier, orrel, kitaar, konsertina en trekklavier bespeel. Hy was ook saam met Jan Coetzer en Deon Heyneke lid van die groep Take 3. Sy albums sluit in Herinneringe (2019), Tranquilla, Met ’n Lieb In Jou Hart, Ou Kraalliedjies, Skoffel Tot Dagbreek I en II en Fantasia.

Die omstrede sanger Steve­ Hofmeyr, wat al saam met wyle Lieb gewerk het, het sy medelye op Facebook uitgespreek: “Ek verneem met groot hartseer van Lieb Bester se afsterwe. Hy was my kinderheld en baie van my drome het waar geword toe ek later saam met hom in Agter Elke Man, die fliek, kon speel.“Hy was ’n groot legende en sy hart was reg. My gebede is by sy familie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters