11 dae gelede
Geldmaakskema vat armes vir 'n ride
Ponzi-skema
Mbatha se huis is aan die brand gesteek nadat inwoners hom nie kon kry nie.  ~ foto verskaf

TOE beleggers nie die stigter van 'n geldmaakskema in Ladysmith in die hande kon kry nie, het hulle sy familiehuis aan die brand gesteek.

Die brandweer is Woensdagmiddag uitgeroep na die huis van Sphelele "Sgumza" Mbatha.

Sowat 1 500 woedende betogers het Dinsdagaand by die Ladysmith-polisiestasie bymekaar gekom en aangedring om werknemers van Bitcoin Wallet, Mbatha se skema, te sien.

Die werknemers is glo na die polisiestasie geneem toe die polisie hulle van die woedende betogers gered het. 

'n Gemeenskapsleier het aan TimesLive gesê honderde mense het die afgelope paar maande buite Bitcoin Wallet se kantore gestaan om in die skema te belê. 

"Hulle het geglo hulle gaan ryk word omdat die maatskappy 100% rente op uitbetalings binne twee weke belowe het," sê die leier.

Beleggers het egter sowat 'n week gelede lont begin ruik toe Bitcoin Wallet se kantore toegemaak het. 

Mbatha het glo aan hulle gesê dis op instruksie van die munisipaliteit gedoen.

Die Alfred Duma-plaaslike munisipaliteit het toe 'n verklaring uitgereik waarin hulle Mbatha se bewerings ontken.

Mbatha het toe Dinsdag aan 'n gemeenskapsradiostasie, Nqubeko FM, vertel dat hackers die webwerf binnegedring het en al beleggers se geld gesteel het.

Die beleggers kon hom sedertien nie in die hande kry nie.

Volgens die gemeenskapsleier het Mbatha uit Ladysmith gevlug.

"Op die oomblik praat die hele dorp oor Bitcoin Wallet. Dis hartseer want die armes is vir 'n ride gevat," sê die leier. - TimesLIVE




Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters