6 dae gelede
Eureka! Hof gee swerwers hoop
INNIE WOLKE: Adriaan Nieuwoudt is in ekstase oor die hofbeslissing.  ~ Foto Verskaf

’N ONLANGSE hof­uitspraak het die ­inwoners van ’n privaat dorpie laat juig.

Kragtens dié uitspraak mag die Kamiesberg-munisipaliteit (KBM) nie voortgaan en 24 wonings op die plaas ­Dikdoorn sloop of laat sloop nie.

Die plaas vorm deel van die Eureka-ontwikkeling, breinkind van Adriaan Nieuwoudt.

Nieuwoudt ­beywer hom ­vurig om ’n ­veilige hawe vir ontwortelde Afrikaners te ­vestig.

Die hofaansoek is gebring deur die KBM in Garies in die Namakwa-distrik.

Luidens ­hofstukke het Rufus Beukes, die munisipale bestuurder, die aansoek kragtens sy amp gebring.

Die KBM het aanvanklik ­verklaar dat die strukture onwettig opgerig is en ­gesloop moet word. Hiervoor het hulle die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde (Wet 103 van 1977) aangehaal.

Magte

Die munisipaliteit was ook heftig gekant teen die ontwikkeling van ’n privaat dorpie vir hoofsaaklik ­Afrikaners.

Volgens landdros PK ­Magidela het die KBM egter nie daarin geslaag om te bewys dat Beukes die vereiste magte gehad het om so ’n aansoek te bring nie.

Sy het voorts gesê: “Ook was Beukes se beëdigde ­verklaring­ in so ’n mate gebrekkig dat daar geen bewyse was waarop die applikant (die KBM) se saak berus het nie.”

Sy het die KBM se aansoek met kostes van die hand gewys.

Serena Cloete, ’n inwoners van Garies, wil nou graag weet wie dié onnodige regskostes gaan betaal. ­Volgens haar gaan dit reeds swaar in die dorp.

Sy sê: “Die lokasie, Mooi-uitsig, en Garies sit al drie dae sonder water, want daar is nie geld om die waterprobleem op te los nie. Ook skuld die KBM ­miljoene aan ­Eskom.”

Deon Harmse, ’n inwoner van ­Eureka, was in die wolke oor die uitspraak.

“Hierdie was ’n ­oorwinning vir alle minderheidsgroepe wat streef om te leef tussen hul eie mense, ­ongeag hulle kleur.

“Dit gee hoop dat ons (Afrikaners) tog ’n plek in die land het en die regstelsel almal bystaan.”

Nieuwoudt het gesê: “Die belastingbetalers van Garies is woedend oor hulle geld so verkwis word. Of waarvandaan kry die munisipaliteit die groot geld vir sulke duur hofsake?”

Volgens Nieuwoudt het baie mense hul mooi plase verlaat om in Eureka ’n lewe te probeer skep.

Beukes het gesê hulle gaan môre met ’n regspan vergader en ’n verklaring uitreik.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters