Verlede maand
eNCA ontken rassisme in maskerherrie
df
Lindsay Dentlinger besig om 'n onderhoud met die DA se Geordin Hill-Lewis te voer.  ~ Skermgreep

DIE nuuskanaal eNCA sê die gedrag van een van sy senior joernaliste tydens die begrotingsrede was nie rasgemotiveerd of kwaadwillig nie.

Dit volg nadat 'n herrie om die kop van die joernalis Lindsay Dentlinger losgebars het. 'n Video is in die sosiale media gedeel waarin dit voorkom of sy net swart politici vra om maskers in lyn met Covid-19-riglyne te dra, terwyl dieselfde versoek nie aan wit politici gerig is nie.

In die video voer sy 'n onderhoud met die maskerslose leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, en sekondes later versoek sy dat die UDM se Nqabayomzi Kwankwa sy masker vir 'n onderhoud aanhou. Die DA-leier John Steenhuisen was ook maskerloos tydens sy onderhoud.

Die eNCA-bestuur sê ná 'n vergadering met Dentlinger het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat haar gedrag nie rasgemotiveerd of kwaadwillig was nie.

"Dentlinger is 'n ervare joernalis met meer as 21 jaar se ervaring waarvan 9 jaar met eNCA is. In haar tyd by eNCA het sy hoofsaaklik op politieke nuus gefokus. Dentlinger het in drukmedia, radio en televisie gewerk en het onderhoude met baie hoëprofiel-politici van alle sektore en partye gevoer sonder dat enigeen haar gedrag in twyfel getrek het. Die voorval verteenwoordig 'n onakkurate en onregverdige beeld van haar werk," sê John Bailey, besturende redakteur van eNCA.

Bailey sê Dentlinger moes onder druk regstreeks op die lug deur haar gehoorstuk ook instruksies van die producer neem en het nie versoek dat mense met wie onderhoude gevoer is, maskers dra nie.

"Ná noukeurige ontleding van die situasie, verstaan ons dat, gegewe die druk van 'n regstreekse TV-uitsending, sulke onbeplande gebeure kan plaasvind. Deur beraadslaging het ons gevind daar is geen kwaadwilligheid van die joernalis se kant nie," het eNCA se besturende direkteur, Norman Munzhelele, bygevoeg.

Bailey het gesê kommentaar en videos wat oor die voorval gedeel word, is kwaadwillig en misleidend.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters