2 maande gelede
EFF trek streep in sand
Julius Malema  ~ Waldo Swiegers

DANK Pravin Gordhan af of daar gaan chaos in die parlement wees. 

Só het Julius Malema, leier van die EFF, die afgelope naweek by 'n byeenkoms in Schweizer-Reneke gedreig. 

Malema het in 'n video op Twitter belowe om dit vir pres. Cyril Ramaphosa moeilik te maak om sy staatsrede in Februarie te lewer as hy nie die minister van openbare ondernemings in die pad steek nie.

"Cyril Ramaphosa, ek wil vandag vir jou sê. As jy nie vir Pravin voor die staatsrede gaan afdank nie, sal die staatsrede oor Pravin gaan," het Malema gesê.

"Ons gaan daar opstaan. Ons gaan keer dat jy praat. Ons gaan vir jou sê jy moet Pravin afdank omdat ons Suid-Afrikaanse bates moet beskerm.

"As Ramaphosa nie bereid is om ons bates te beskerm deur Pravin af te dank nie, dan moet Ramaphosa gaan." 

Die EFF eis Gordhan se kop nadat Jabu Mabuza as voorsitter van Eskom bedank het.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê in 'n verklaring Mabuza se bedanking is nie genoeg nie.

"Die minister van openbare ondernemings moet ook bedank. Hy is te in die middel van die verwarring, onbevoegdheid, verlamming en die gebrek aan rigting by Eskom," sê Ndlozi.

Ndlozi sê niemand in die kabinet was die afgelope 12 maande so 'n complete failure soos Gordhan nie.

Thandi Modise, speaker, en Amos Masondo, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, het Malema intussen gewaarsku teen dreigemente om verrigtinge in die parlement te ontwrig.

Hulle sê die dreigemente is onverantwoordelik en dui op 'n gebrek aan begrip vir iemand se plig teenoor die publiek.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters