12 dae gelede
Dwergies ontevrede met proses
Zondo
Mzwanele Manyi  ~ 

KLEINER politieke partye dreig met regstappe ná die nasionale verkiesing Woensdag.

Dis omdat hulle glo daar was ongerymdhede in die stemproses.

Nou wil hulle die On­afhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voor die hof sleep.

Dié partye is onder andere­ die African People’s Convention (APC), National Freedom Party (NFP), African Trans­formation Movement (ATM) en Black First Land First (BLF).

Die African News Agency (ANA) berig die leier van ATM, Mzwanele Manyi, beweer die verkiesings was nie vry en regverdig nie.

Dit was in ’n media-onderhoud in die nasionale uitslagsentrum in Pre­toria.

Weggewys

Manyi sê dis omdat party kiesers meer as een keer gestem het, die ink aan kiesers se vingers gou uitgewis kon word en stembriewe verdwyn het.

’n Woordvoerder van die APC, Adil Ncha­beleng, sê by party stemlokale is kiesers weggewys nadat aan hulle gesê is hulle het nie die vereiste dokumente nie.

’n Woordvoerder van die BLF, Zanele Lwana, sê daar is bewyse van ongerymdhede in die verkiesings, berig ANA.

Die OVK het Donderdag gesê hy sal ’n oudit van die uitslae van ’n sample van stemlokale doen.

Dít, sê hy, is om seker te maak dat kiesers nie meer as een keer gestem het nie.

Daar is al minstens 20 kiesers gearresteer daarvoor dat hulle probeer het om ’n tweede keer te stem.

Aanduiding

Die minstens 27 partye sê in ’n gesamentlike verklaring die OVK erken teenoor die publiek daar was ongerymdhede en arrestasies.

Hulle sê in daardie geval is dit ’n duidelike aanduiding dat nie met die proses voortgegaan moes word sonder ’n behoorlike en onafhanklike ondersoek nie.

Die partye het Donderdag ’n griefskrif by die OVK ingedien.

Die Staatskommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) het Saterdag egter in ’n verslag gesê dat plaaslike en internasionale waarnemers die verkiesings vry en regverdig verklaar het.

ANA berig die GCIS sê waarnemers het die verkiesings bestempel as die beslissendste sedert die land ’n demokrasie geword het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters