14 dae gelede
Drie gesoek wat diere uit voertuig smyt
dfdf
Die Toyota Quantum waarop die polisie beslag gelê het.  ~ Foto Verskaf / SAPD

DIE polisie in KwaZulu-Natal soek nog na die verdagtes wat Donderdag drie lewende beeste uit ’n bewegende taxi gegooi het.

Die verdagtes het die Toyota Quantum in New Hanover gestamp en te voet verder gevlug. Met die ondersoek op die toneel is bevind die vee is in die Rietvlei-omgewing gesteel.

Kapt. Nqobile Gwala, ’n polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring die Pietermaritzburg-honde-eenheid was besig met operasies toe hulle inligting ontvang oor die Quantum wat met gesteelde vee in Karkloof ry.

Gwala sê daar is intussen op die taxi met vals nommerplate beslag gelê. ’n Klag van dierewreedheid gaan bygevoeg word.

In ’n onverwante voorval is 35 gesteelde bokke in die Pata-omgewing van Pietermaritzburg gevind.

Die bokke is in ’n huis ontdek, maar die eienaar van die huis was nie daar nie.

Gwala sê die polisie soek nog na die eienaar.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale kommissaris, het die manne in blou geloof vir hul goeie werk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters