Verlede maand
Dorp vra nou vir justice
Beroline van Wyk  ~ Foto Verskaf

KEIMOES. – Sy het hard geveg om uit die kloue van haar moordenaar te kom, maar hy was te sterk vir haar en het haar vermorsel.

Keimoes, ’n dorpie naby Upington in die Noord-Kaap, is in rep en roer oor die gru-dood van Beroline van Wyk (15), wat ook Rosa genoem is.

Gershwin Kopers, haar veel ouer eks-boyfriend, het Beroline na bewering laas week doodgelem. Hy het intussen al twee keer op aanklag van moord in die landdroshof verskyn en hy is Dinsdag borgtog geweier.

Beroline het meer as vier steekwonde gehad.

Volgens Portia van Wyk, die stigter van die Give Light Foundation in die Noord-Kaap, het Beroline lank gesukkel om van Kopers ontslae te raak.

Gekant

Sy sê die twee was in ’n aan-af-verhouding en toe hy haar begin aanrand, wou sy hom los. Beroline het so ver gegaan om ’n aanrandingsaak teen Kopers te maak, maar dit het hom nie gekeer om haar te vermoor nie.

Sy vertel: “Hulle het mekaar aan en af gesien, maar haar ma was gekant teen dit.

“Haar ma het al uit die Kaap gekom om die verhouding stop te sit, want hy het haar al vantevore so aangerand. Rosa het reeds die verhouding beëindig oor die mishandeling.”

Volgens Van Wyk is die gemeenskap diep geraak deur dié sinlose moord.

Sy sê hulle sit reeds met hopeloos te veel gevalle van geslagsgeweld.

Sy vaar uit: “Die gemeenskap is geskeur en stukkend! Ons voel dat ’n oog vir ’n oog in hierdie saak moet geskied.

“Ons voel so ’n geval moes nooit gebeur het nie omdat daar reeds soortgelyke gruesome voorvalle gebeur het.

“Ons het besluit om ook bewusmakingsveldtogte te hou met die Give Light Foundation. Youth Is Key en The Change Foundation is ook betrokke.”

Van Wyk sê sy en die gemeenskap van Keimoes gaan seker maak geregtigheid geskied. Dis waarom hulle met albei hofverskynings voor die hof betoog het.

Sy verduidelik: “Dis baie moeilik om iemand op so ’n manier te verloor. Dit maak ’n mens elke keer so onseker oor die lewe.

“Ons gevoel is baie sterk dat hy twee keer lewenslange tronkstraf moet kry, want hy is onrehabiliteerbaar.

“Hy mishandel al baie lank vroue en daar was ook al beweringe dat hy ’n ouer vrou verkrag het. Van daai saak het niks gekom nie. Dis dié soort mense wat net lewens verwoes en ons soek hulle nie in ons gemeenskap nie.”

Van Wyk sê Beroline se familie sukkel om haar dood te verwerk oor sy haar ma se enigste kind was.

Voorbeeld

“Sy’t nog haar hele lewe voor haar gehad. Ons hoop geregtigheid geskied en hy kry sy lewenslange vonnis.

“Iewers moet die justice system ’n voorbeeld begin maak van sulke oortreders.”

Kopers loop op 28 Junie weer hof. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters