5 maande gelede
Dogter sien hoe ma sterf
Liana Petersen
Liana Petersen is in Melville, Johannesburg, doodgeskiet.  ~ Foto Verskaf

'N  11-JARIGE dogtertjie van Johannesburg moes op Nuwejaarsdag toekyk hoe haar ma haar laaste asem uitblaas.

Liana Petersen (41) is een van twee vroue wat gedurende die skietvoorval by Poppy’s-restaurant noodlottig gewond is.

Petersen en haar dogter het maar nog net 'n jaar lank in Johannesburg gebly ná hulle verlede jaar vanaf Kaapstad verhuis het.

Volgens Desiree Johnson het haar suster se dogter die hele voorval gesien en sê dis nie iets wat ‘n kind ooit moet ervaar nie.

Sy voeg by dat die dogtertjie tans berading ontvang terwyl sy by haar pa in Johannesburg bly.

Petersen is reeds Saterdag begrawe en volgens Johnson was dit maar 'n bitter pil vir almal om te sluk.

“Ons kan dit nog steeds nie glo nie en vra onsself steeds af of dit rerig met haar gebeur het,” sê Johnson.

Johnson beskryf haar suster as ‘n go-getter wat nooit enigiets in die pad van haar doelwitte laat staan het nie.

“Sy was erg oor haar dogter en wou net die beste vir haar hê,” sê Johnson.

Samantha Basdew (29), die ander vrou wat in die voorval doodgeskiet is, is ook die afgelope naweek in Matatiele in die Oos-Kaap begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters