2 jaar gelede
DKD gee bes oor 7 bruin werkers
oorwinning: Die sewe werknemers en lede van Solidariteit voor die grondwethof. Foto: SOLIDARITEIT  ~ 
oorwinning: Die sewe werknemers en lede van Solidariteit voor die grondwethof. Foto: SOLIDARITEIT
reg: Renate Barnard sê Solidariteit bly paraat. Foto: FOTO24

DIE departement van korrektiewe dienste (DKD) gaan voldoen aan die grondwethof se uitspraak oor die sewe bruin werknemers wat oor die hoof gesien is.

Die hof in Braamfontein het laas Vrydagoggend beslis sewe bruin DKD-werknemers moet bevorder en terugwerkend vergoed word.

Dit volg nadat die sewe werknemers – Deidré Jordaan, Desiree Merkeur, Derick Wehr, Jan Kotze, Christo February, Geo-nita Baartman en Theresa Abrahams – ingevolge die DKD se nuwe diensbillikheidsplan vir bevordering oor die hoof gesien is.

Die hof het ook beslis die DKD moet die streek se rassedemografie in ag neem by die opstel van sy planne vir regstellende aksie.

Simphiwe Xako, DKD-woordvoerder, het gesê die departement respekteer die grondwethof se uitspraak.

“Ons sal nie teen die uitspraak appelleer nie. Die hof handhaaf die beslissing van die arbeidshof,” het Xako bygevoeg.

Renate Barnard van die vakbond Solidariteit, wat namens die sewe werknemers die saak hof toe gevat het, sê hulle gee die DKD drie maande om aan die uitspraak te voldoen.

“Anders sal ons hom aanvat vir minagting van die hof en die DKD se nasionale kommissaris hof toe sleep, want hy moet toesien dat die uitspraak toegepas word.”

Sy sê die sewe werkers is steeds in die DKD se diens. “Een is oorgeplaas na die SAPD, maar sy is dié week terug na die DKD.

“Hulle is baie gelukkig en voel positief om daar te wees.”

Barnard sê as ander staatsdepartemente weer poste adverteer en nie die streek se demografie in ag neem nie, sal Solidariteit nie skroom om daai mense in die hof te verteenwoordig nie.

Sy voeg by: “Alle streke moet gehoor gee aan die uitspraak en dit moet in die poste weerspieël.

“Ons wil nie heeltyd baklei nie, maar hulle sal die uitspraak moet gehoorsaam.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters