9 dae gelede
Dis aanrand en afbrand by smokkelhuis
alkohol
Die eienaar van n ongelisensieerde drankwinkel is oor die naweek gearresteer  ~ iStock

DIE polisie in Gauteng ondersoek die aanval op twee van sy beamptes by ’n smokkie.

Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê die twee beamptes is in Muldersdrift, wes van Johannesburg, aangeval en hul diensvoertuig aan die brand gesteek.

Dít toe hulle Saterdag op ’n klag van rusverstoring by die ongelisensieerde drankwinkel in die informele nedersetting gereageer het. Die eienaar van die smokkelhuis is in hegtenis geneem weens oortreding van die inperkingsregulasies rakende die verkoop van alkohol. “'n Aparte ondersoekdossier is geopen rakende die aanval op polisielede en opsetlike saakbeskadiging,” sê Peters. 

Genl.maj. Daniel Mthombeni, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die voorval as ’n aanduiding “dat sommige lede van die publiek die gesag van die staat ondermyn”.

Intussen word motoriste in Noordwes versoek om waaksaam te wees wanneer hulle snags ry. Dít volg ná die moord op ’n motoris by De Wildt nadat hy stilgehou het om ’n pap band reg te maak.

Die 58-jarige Sello Kgasi was Vrydagaand van Rosslyn in die rigting van Brits op die R566-pad toe hy oor metaalpenne gery het wat in die pad naby die Solar Panels-kamp versprei was. Toe hy sy voertuig stop, het twee gewapende verdagtes hom in ’n lokval gelei en geskiet.

Hulle het toe van die toneel gevlug. Die provinsiale polisiekommissaris, Sello Kwena, het die moord veroordeel.

Die polisie versoek enige iemand met inligting om na vore te kom. – SABC News

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters